Ek het nie nodig om kerk toe te gaan nie (2)

Die Here voorsien nie net in ons behoeftes deur die plaaslike gemeente nie, maar dit is ook binne die konteks van die kerk wat ons ons volle potensiaal as gelowiges kan bereik. As lede van die menslike ras, is ons as sosiale wesens geskape. Ons het vriendskap, gemeenskap en ‘n samehorigheidsgevoel nodig wat ons net binne die verband van familie, stam en volk vind. Dit is net die wanaangepastes wat nie interaksie met ander nodig het nie. As Christene behoort ons tot die stam van die plaaslike gemeente en tot die volk van God se uitverkorenes. Vir die een of ander onverklaarbare rede is daar Christene wat reken dat hulle meer in gemeen het met hulle ongeredde kollegas, die plaaslike golf klub of die besoekers aan die kroeg op die hoek, as met die lidmate van die kerk. In plaas van om daardie verhoudings te bou wat hulle geestelike lewe versterk, koester hulle veel eerder die lewe van die vlees en vernietig daarmee saam die lewe van die gees. Nog erger, dit is ook die treurige bewys van waar hulle eerder tuishoort.

Jou wêreldse vriende kan jou nie geestelik opbou nie en dit is gewaarborg dat hulle jou geleidelik maar seker sal aftrek tot op hulle vlak. Isolasie is nie ‘n aanvaarbare alternatief nie aangesien ons almal die interaksie met ander mense nodig het. Die enigste aanvaarbare opsie vir die gelowige is dus om gemeenskap te hou met ander gelowiges. Hierdie kan nie ‘n “skyn gemeenskap” wees nie maar moet werklike gemeenskap, van aangesig tot aangesig, wees. Ek praat feitlik daagliks met my dogters oor die telefoon maar dit is nie naastenby dieselfde as om hulle te sien en hulle fisies vas te hou nie. Geen rekenaar, telefoon of video-konferensie kan die saamwees van gelowiges onder een dak vervang nie. Dit is interessant dat die Skrif daarna verwys dat “hulle almal op een plek bymekaar [was]” (Hand 2:1). Om TV te kyk of op die internet te kuier, plaas jou nie in een plek met ander nie en dit is ‘n leuen dat die warmte van gemeenskap deur die kassie tot jou hande kan vloei.

Jesus het volmaakte gemeenskap met Sy Vader gehad maar tog het Hy telkemale die gemeenskap van Sy dissipels opgesoek, ten spyte van hulle mislukkings en swakhede. Tydens Sy laaste maaltyd het Jesus gesê: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie” (Luk 22:15-16). Die woord wat hier as “baie daarna uitgesien” vertaal is, word meestal met “begeerte” vertaal. Jesus is deur ‘n verterende passie en ‘n diep honger daartoe gedryf om gemeenskap met die twaalf te hou, ten spyte van die feit dat een van hulle Hom reeds verloën het en die res, behalwe Johannes, Hom by die Kruis in die steek sou laat. As Jesus hierdie gemeenskap nodig gehad het, dan het ek en jy dit selfs nog meer nodig, selfs al sou ons dink dat ons meer geestelik is as die ander gelowiges.

Ons het die veiligheid en beskerming nodig wat ons kry as ons saam met ander gelowiges is. In die wildernis het die leeus geen kans op sukses teen ‘n hele trop buffels nie. As hulle egter daarin sou slaag om een buffel vanaf die trop te isoleer, kan hulle hom maklik doodmaak. Daarom, “wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Pet 5:8). Ons is relatief veilig binne die liggaam, maar die oomblik wat ons buite en op ons eie is, word ons maklike prooi. Dit is presies die rede waarom die satan tweedrag saai tussen die broeders. Die oomblik wat hy die wig ingedryf het en hy die een broer van die ander geïsoleer het, dan word hulle maklike slagoffers.

Dit is nodig dat ons tyd met ander gelowiges spandeer sodat ons meer soos Jesus kan word! Wag een oomblik voordat jy my van kettery beskuldig. Hoe vorm Hy ons tot Sy beeld? Spuit Hy ons in met Sy ewebeeld? Word ons skielik een môre wakker met ‘n heel nuwe persoonlikheid? Nee, Hy verander ons deur Sy Woord en deur die kerk. Daar is doodeenvoudig geen plaasvervanger om ons tot Christus se ewebeeld te herskape as om die dikwels pynlike ervarings te deurstaan in die gemeenskap van ander gelowiges nie! Ja, dit is hierdie harde en dikwels onaangename interaksie wat meer as enige iets anders vir ons vorming verantwoordelik is. “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar” (Spr 27:17). Wanneer ek ‘n mes uit ‘n stuk staal maak, gebruik ek nie ‘n veertjie om die staal te vorm nie. Dit is net iets wat harder as die yster is, wat dit sal vorm. Op dieselfde manier word mense dikwels gevorm deur pynlike interaksie wat sy merk laat.

Ek moedig nie enige soort van liefdelose of ondeurdagte optrede in die kerk aan nie. Om die waarheid te sê raak ek baie gefrustreerd met gelowiges wat self-gesentreerd en onbedag optree. Die feit bly egter, dat ons slegs leer om geduldig te wees, wanneer ons die dwaasheid van ander moet verdra. Ons leer hoe groot God se genade in ons is, wanneer ons ons eie foute en tekortkominge in ander raaksien. Ons leer hoe groot God se genade en geduld is, as ons met ander saamleef wat stadig is om te verander. Dit is wanneer ons met die onbetaamlikes in aanraking kom, dat ons leer om ook die afstootlikes lief te hê. Dit is net wanneer ons die stryd stry om ander te vergewe, dat ons Sy vergifnis verstaan. Terwyl ons almal baie graag deel sou wil wees van ‘n kerk waar almal presies net soos Jesus is, is dit egter ‘n feit dat ons juis leer om meer soos Hy te wees wanneer ons in ‘n kerk is wat minder soos Hy is!

Ons het ook die kerk nodig om Sy Woord te bevestig. Elke gelowige moet die Bybel lees en verwag dat die Here elkeen van hulle persoonlik deur Sy Woord sal aanspreek. Maar ons het ook bevestiging nodig van wat Hy vir ons “sê”. Ons sal nie daardie bevestiging kry as ons na willekeur die Bybel op ‘n plek laat oopval of ons oë toemaak en ons vinger op ‘n plek druk, in die hoop dat iets sal uitspring nie. Bevestiging vanaf die Here kom deur die lewe van die kerk. Dit mag wees dat dit deur die prediking van die Woord kom of selfs deur ‘n opmerking van ‘n medegelowige. Daar is te veel mense wat daarop aanspraak maak dat hulle “God se stem” in hulle binnekamer gehoor het, terwyl dit klokhelder is dat die Here iets anders probeer sê. Ek het deur die loop van die jare gesien hoe mense wat eens die ortodokse leringe aangehang het, weggedryf het onder die een of ander misleiding. Dit sal nie gebeur vir so lank ons deel is van ‘n gesonde gemeente en ons onsself aan mekaar onderwerp nie. Dit is egter die oomblik wat ons begin dink dat ons nie die ander nodig het nie (self al bly ons deel van die kerkgemeenskap), wat ons onsself vir dwaling oopmaak aangesien ons nie meer aan die kontrole van die ware gemeenskap onderworpe is nie. Niemand behoort sy teologie in afsondering te vorm of te verander nie. Dit moet slegs in gemeenteverband gebeur.

Ek bied my verskoning aan indien my opmerkings jou dalk kwaad gemaak het, veral as jy so geestelik is dat jy die kerk ontgroei het. Maar aan die ander kant skryf ek vir diegene wat, net soos ek, swak is.